Tweekleppiges

Tweekleppiges
Tydperk: Kambrium – Onlangs
Skets in Ernst Haeckel se Kunstformen der Natur, 1904
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Bivalvia

Subklasse

Sien teks.

Tweekleppiges (Bivalvia) is 'n klas seediere wat tot die orde van weekdiere (Mollusca) behoort. Hierdie klas sluit onder andere gapermossels, oesters en mossels in. Die tweekleppiges het 'n skulp wat uit twee dele bestaan wat met 'n buigbare ligament aanmekaar gehou word. 'n Paar spesies kan swem, maar die meeste anker hulself aan 'n substraat vas.

Kieue word vir asemhaling gebruik, maar kan ook met voeding help, omdat die meeste tweekleppiges filter-vreters is. Die geslagte is verskillend en bevrugting vind uitwendig plaas. Die diere word veral gekenmerk deur hul uitwendige skelet (skulpe), wat uit twee beweegbare dele (kleppe) bestaan. Die klas diere is baie suksesvol en die verskillende spesies word in die seë op 'n verskeidenheid dieptes, asook in varswater aangetref.

Hulle is uitsluitlik waterlewend en die bekendste tweekleppiges is die mossels en oesters. Die tweekleppiges (klas Bivalvia) is aan slakke, seekatte en inkvisse verwant en almal is weekdiere (phylum Mollusca). Die meeste tweekleppiges se liggame word heeltemal deur hul skulpe bedek en 'n kopgedeelte kan nie onderskei word nie. Die voet is in baie gevalle tot 'n mesvormige struktuur gemodifiseer en dien as 'n soort graaf.

'n Radula (raspertong) ontbreek by die meeste spesies. Die dier is of heeltemal sessiel (sittend), of hulle kan net stadig beweeg, maar hulle kom nogtans wydverspreid voor. Hulle is egter nie soos slakke tot 'n bestaan op land aangepas nie. Ongeveer 15 000 spesies is bekend.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search